Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 70

Sondag 2 Maart 2014 Lees eers Psalm 132:1-10

Оглавление

In God se teenwoordigheid

Kom ons gaan sy woning binne, kom ons buig daar in aanbidding voor Hom. – Ps 132:7

GESELSVRAAG:

Waar en wanneer was jy nog die diepste van God se teenwoordigheid bewus?

“Daardie Woensdagaand toe ek gekniel het om my lewe onvoorwaardelik aan die Here oor te gee, het ek nie geweet wat sou gebeur nie. Maar skielik was ek net van God se teenwoordigheid bewus. Sy liefde het my omvou. My lewe was sedertdien nog nooit weer dieselfde nie.”

Vandag is Sondag. Die kinders van die Here gaan in hul miljoene bymekaarkom in kerke, sale, huise en selfs in die opelug. Duisende sal dit nie openlik mag doen nie. Dalk sal hulle nie eens waag om te sing nie. Ander is in eensame opsluiting omdat hulle Jesus volg. Hulle word gemartel, maar God is ook daar by hulle. Hulle is gewillig om die prys te betaal om God se kind te wees.

Maar daar is ook baie lidmate wat nie eens daaraan sal dink dat vandag Sondag is nie. Hulle sal besig wees met die Sondagkoerant, die Sondagsport en met hul inkopies. Vir hulle is dit nie meer God se dag nie. Dit is die mens se dag. Hoe arm sal hulle nie aan die einde van hierdie dag wees nie!

Ek en jy kry ook die keuse wat ons met hierdie dag wil gaan doen. Dawid twyfel nie meer nie. Hy weet wat die beste is. Kom ons gaan sy woning binne, kom ons buig daar in aanbidding voor Hom. Hoe voel jy vandag oor hierdie woorde? Jou dade sal wys.

GEBED:

Ek wy myself aan U, sodat die hele week aan U behoort.

Lees vanaand in Psalm 132:11-18 watter seën Dawid ervaar het nadat hy die Here eerste gestel het in sy lewe.

Uit die beek 2014

Подняться наверх