Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 88

Оглавление

Donderdag 19 Maart 2015 • Lees eers 1 Samuel 15:24-35

Genadetyd gaan verby

Tot die dag van sy dood het Samuel nie weer vir Saul gesien nie (15:35).

GESELSVRAAG:

Wat doen jy as jy verkeerd gedoen het?

“Ek is jammer dat jy dit so opneem, maar …” begin baie van ons pogings tot konflikoplossing. Ons sê mos ons is jammer, al bedoel ons dit nie. Ons probeer verskoning maak vir wat ons gedoen of gesê het. Ons regverdig onsself, soos koning Saul in die gedeelte wat ons saam gelees het. By die skool en by die huis leer ’n kind gou om verskonings te versin. Maar dit gaan nie daaroor of jy daardeur baat nie, maar wat jy daardeur word.

Samuel was teleurgesteld dat Saul, die belowende jong koning, nie die toetse geslaag het nie. Hy was nie kwaad vir Saul nie. Hy het oor hom getreur (vgl 16:1). Saul het sy sonde al so vlot bely dat hy dit nie eens meer bedoel het nie, net soos ons ook ’n rympie van “Vergewe ons ons sondes” aan die einde van elke gebed aanlas sonder om aan ’n spesifieke sonde te dink of hartseer daaroor te wees. Sondebelydenis wat nie bedoel word nie, is nie veel werd nie. Saul het nie besef dat sy genadetyd aan die verbygaan was nie. Die tyd het nou gekom dat die Here Hom aan Saul sou onttrek. Van nou af was hy op die afdraand.

Ons hemelse Vader gee om vir sy kinders se ontwikkeling. Maar sy genadetyd gaan verby. Eendag is dit te laat. Mag God verhoed dat dit ook met ons sal gebeur.

GEBED: Here, ek wil u genadetyd reg gebruik.

Lees vanaand in 1 Samuel 16:1-13 hoe God vir Dawid as die volgende koning uitgewys en toegerus het.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх