Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 87

Оглавление

Woensdag 18 Maart 2015 • Lees eers 1 Samuel 15:1-11

Die volgende toets

Saul en die manskappe het Agag gespaar en ook die mooiste kleinvee en beeste, die vetstes, en die lammers en alles wat mooi was (15:9).

GESELSVRAAG:

Hoekom skryf ons soveel toetse op skool?

“As jy nie meet nie, sal jy nie weet nie,” is ons geleer in strategiese beplanning. ’n Mens kan goeie doelwitte hê en die regte besluite neem, maar beheer moet daaroor uitgeoefen word. Daarom stel jy meetbare doelwitte. Jy moet teen ’n sekere datum iets voltooi hê. Dit help ook om vir jou tussentydse doelwitte te stel sodat jy kan sien of jy op koers is. Dit gebeur ook op skool. Die onderwyser weet nie of hy suksesvol onderrig gee as hy dit nie gereeld toets nie.

Saul het weer ’n toets gedop. Hierdie keer het hy ’n groot leër tot sy be­skikking gehad. Sy opdragte was duidelik. God se genade met die Amalekiete het tot ’n einde gekom. Nou sou hulle met God se geregtigheid te doen kry. Maar weer was Saul net deels gehoorsaam. Hy het die koning gespaar en ook die beste van die vee en ander dinge. God weet alles. Hy het dit aan Samuel geopenbaar. Jou sonde sal nie ongestraf bly nie.

God is met ons elkeen op pad. Hy wil ons dinge van die geloofslewe leer en ons toerus as bruikbare instrumente in sy hand. Daarom toets Hy ons van tyd tot tyd. Dit is nie omdat Hy nie weet waar Hy met ons staan nie, maar dat óns kan besef hoe ons vorder.

GEBED: Dankie dat U vir my wil wys hoe ek geestelik vorder, Hemelvader. Moet asseblief nie moed opgee met my nie.

Lees vanaand in 1 Samuel 15:12-23 hoe die vee Saul tot leuenaar gemaak het en wat die gevolge vir hom was.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх