Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 75

Оглавление

Vrydag 6 Maart 2015 • Lees eers 1 Samuel 7:9-17

Waarheen is God met jou op pad?

Hy het die plek Eben-Haeser genoem, “want,” het hy gesê, “tot nou toe het die Here ons gehelp” (7:12).

GESELSVRAAG:

Watter bakens herinner ons aan wat God gedoen het?

“As jy wil weet waarheen God met jou op pad is, moet jy terugkyk op die pad waarlangs jy gekom het. Dit sal jou help om te verstaan wat die roete vorentoe sal wees,” het Henry Blackaby in een van sy boeke voorgestel. God is met ons elkeen besig. Hy het selfs voor ons geboorte bepaal watter rol ons in sy groot plan gaan speel (vgl Ps 139:13-17). Hy het ons aan ’n spesiale ouerpaar toegeken. Hy het ons deur baie ervarings gelei om ons voor te berei. “Dit lyk my die Here het my my hele lewe lank voorberei vir die werk wat ek nou vir Hom kan doen,” vertel dr Ockie Erasmus, wat ná sy aftrede jare lank vir Bybelkor pastorale raadgewing in Sotho gedoen het.

Samuel kon ’n interessante storie skryf oor sy ervarings. Hy kon vertel van hierdie dag toe die vyand hulle onverwags oorval en God aan die Israeliete die oorwinning gegee het deur ’n vreeslike elektriese storm. Nadat hulle die vyand ver agtervolg het, het hulle ’n monument opgerig wat hulle Eben-Haeser genoem het om hulle en hul nageslag te herinner dat die Here altyd help.

As jy vandag terugkyk op jou lewe, sal jy ook aan bakens kan dink waar die Here met jou gewerk het. Hy skaaf nou nog aan jou en rus jou toe vir die werk wat Hy deur jou wil doen. Het jy lus vir aftree of vir optree?

GEBED: Here, gebruik my ook vandag in u diens.

Lees vanaand in 1 Samuel 8:1-9 waarom die Israeliete ’n koning begeer het en wat God se antwoord daarop was.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх