Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 70

Оглавление

Sondag 1 Maart 2015 • Lees eers Psalm 31:1-9

Oorgee maak vry

In u hande gee ek my lewe oor, want, Here, troue God, U het my vrygemaak (31:6).

GESELSVRAAG:

Wanneer gee ’n mens oor?

“Kyk net na daardie ryk man wat ewe vroom op slawe bie. Ek haat hom. Ek wens ek kan hom doodmaak,” dink ’n slavin by haarself terwyl sy wag om opgeveil te word. Toe haar beurt kom, bie die man sowaar op haar en hou aan totdat sy bod aanvaar word. Toe hy haar kom haal, val sy hom summier aan. “Wag, wag, ek wil jou nie kwaad aandoen nie,” verduidelik die koper. “Ek het jou gekoop sodat ek jou kan vrylaat. Jy is nou vry. Jy kan gaan waar jy wil.”

“In daardie geval wil ek jou kom dien,” was haar antwoord.

Niemand kan hulleself vrykoop van die mag van sonde nie. Maar Jesus het ons met sy bloed vrygekoop sodat ons waarlik vry kan wees (vgl Joh 8:36).

Dawid was gedurig in ’n stryd, soos ons uit baie van sy psalms kan aflei. Maar te midde van elke dag se stryd het sy geloof hom gedra. Hy het geweet dat die Here hom vrygemaak het. Daarom wou hy hom aan die Here oorgee.

Vandag wil die Here jou herinner dat Hy jou waarlik vrygemaak het. Jy kan vandag gaan waar jy wil en doen wat jy wil. Maar as jy besef wat dit vir Hom gekos het, dan wil jy nie meer jou eie wil doen nie. Jy wil doen wat Hy wil hê. Jy gee jou aan Hom oor sodat Hy jou kan gebruik – ook om ander mense te seën en na Hom toe te lei.

GEBED: Ek gee my aan U oor, omdat U my vrygemaak het.

Lees vanaand in Psalm 31:10-19 hoe Dawid se depressie en moedeloosheid plek maak vir blydskap en vertroue.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх