Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 71

Оглавление

Maandag 2 Maart 2105 • Lees eers 1 Samuel 3:10 – 4:1a

Betroubare boodskapper

Die hele Israel van noord tot suid het gemerk dat Samuel betroubaar was as profeet van die Here (3:20).

GESELSVRAAG:

Wat sou jy graag oor die toekoms wou weet?

“As ons sien dat ’n leier verkeerd optree, mag ons hom of haar nie langer navolg nie. Kinders van die Here moet anders wees.” Samuel het die voorreg gehad om in die regte kringe te beweeg. Die tempel was natuurlik nog nie in Jerusalem gebou nie. Die huis van die Here waarvan hier sprake is, is die tabernakel, wat in Silo gestaan het. Samuel kon sien wat Eli reg doen, maar ook wat hy verkeerd doen. Hy moes self besluit watter voorbeeld hy wou volg.

Die Here het Hom aan Samuel geopenbaar en gesê: “Ek gaan ’n ding in Israel doen wat elkeen wat daarvan hoor, se twee ore sal laat tuit” (vgl v 11). Hy het hom toe vertel hoe Eli en sy seuns gestraf sou word. Samuel het hierdie boodskap aan Eli oorgedra. Al hoe meer mense het hom begin raadpleeg. Hulle het bewus geword dat God deur Samuel praat. Hy het reguit gepraat, al maak dit seer.

Is dit nie die soort leiers wat ons in hierdie tyd nodig het nie? Ons het mense nodig wat na God luister en wat God se wil aan ander kan verduidelik. Wag ’n bietjie, ek en jy is ook mos leiers, al is dit net in ons eie huisgesin. Die feit dat jy vandag hierdie stukkie lees, wys dat jy ook na God se wil soek. Jy wil die regte leiding gee. Is jy gewillig om meer tyd saam met God deur te bring, sodat jy kan leer om sy stem te ken?

GEBED: Here, help my om elke dag u wil te hoor en te doen.

Lees vanaand in 1 Samuel 4:1b-11 hoe die planne van die Israeliete geboemerang het.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх