Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 83

Оглавление

Saterdag 14 Maart 2105 • Lees eers 1 Samuel 13:10-22

Gehoorsaamheid is die toets

Die Here sal vir Hom ’n man na sy hart soek.

Die Here sal hóm aanstel as regeerder oor sy volk, want jy het nie gedoen wat die Here jou beveel het nie (13:14).

GESELSVRAAG:

Hoe toets die Here ons toewyding?

“Die Here het my in die skool van geduld gesit. En ek dop elke toets,” skryf ’n sendeling uit die Midde-Ooste. Die Arabiese woord bukra beteken “môre” óf verwys na ’n onbekende tyd iewers in die toekoms. Jy weet dus nie wanneer ’n saak afgehandel kan word nie. Stiptheid is nie deel van hul woordeskat nie. Dinge gebeur maar baie rustig.

Saul het sy eerste toets gedop. Samuel het nie betyds opgedaag nie, soos die kultuur van daardie tyd was. Saul het gesien hier kom ’n groot ramp, want sy manne het begin dros en vlug vir die aankomende oormag. Ons sou seker ook maar soos hy eiemagtig opgetree het. Saul het nie besef hierdie toets was doelbewus nie. Die Here wou kyk of hy gehoorsaam sou bly in ’n krisistyd. En toe hy nie slaag daarin nie, het die Here iemand anders, ’n man na sy hart, gesoek. Ons sal nog baie van dié man hoor.

Ons word ook elke dag getoets. As ons die toets slaag, word ons sterker. As ons die toets dop, moet ons dit oor doen. Die Here is besig om ons te vorm vir ’n spesiale taak. Is jy gewillig dat God met jou werk om jou daarvoor voor te berei?

GEBED: Here, ek is bewus van my swakheid en ongeduld. Maar ek is gewillig om verander te word.

Lees vanaand in 1 Samuel 13:23-14:12 hoe Jonatan die teken gekry het wat hom van God se oorwinning verseker het.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх