Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 79

Оглавление

Dinsdag 10 Maart 2015 • Lees eers 1 Samuel 10:1-8

Geseën vir diens

Wanneer hierdie tekens oor jou kom, moet jy doen wat jou hand vind om te doen, want God is by jou (10:7).

GESELSVRAAG:

Waar is die grootste nood in jou omgewing?

“As ek vroeg in die oggend deur die dorp gaan stap, hinder dit my hoe vuil ons strate en parke is. Ek het gevoel dat iemand iets daaraan moet doen. Toe besef ek dat ek ook iemand is.” Nou gaan stap sy elke oggend met ’n swart sak en tel al die rommel op. Teen die tyd dat die ander mense opstaan, is Kerkstraat skoon. ’n Groep vroue het vasgestel dat baie kinders honger skool toe kom omdat hul ouers drankprobleme het. Hulle het vir die kinders kospakkies begin opmaak. So is daar ’n ellelange lys van mense wat begin doen het wat hul hand vind om te doen.

Saul se mond het seker oopgehang toe hy hoor wat alles daardie dag met hom sou gebeur en veral toe dit werklik gebeur. Dit was vir hom die teken dat God vir hom ’n hoë roeping gehad het. Hy moes ’n verskil maak. Hy kon nie meer by sy eie gerief en sy pa se donkies vashaak nie.

Die Here het ook vir ons elkeen ’n roeping. Wat het Hy aan jou gewys? Waar is die nood? Wat kan jy, of jy en jou vriende, daaraan doen? Ons gemeente het meer as 40 projekte wat deur vrywillige lidmate bestuur en behartig word. Hoe kan ek en jy hierdie pragtige land waarin ons woon beter maak? Die Here het werk vir jou.

GEBED: Here, maak my gewillig om u roepstem te gehoorsaam.

Lees vanaand in 1 Samuel 10:9-16 dat alles wat Samuel voorspel het, waar geword het.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх