Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 84

Оглавление

Sondag 15 Maart 2015 • Lees eers Psalm 32:6-11

Saam op pad

Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou (32:8).

GESELSVRAAG:

Wanneer is dit goed om nie alleen te loop nie?

“Ek is bevrees dat die skole die poort na die hel sal wees, tensy hulle die Skrif getrou verduidelik en God se Woord op die harte van die kinders graveer,” het Martin Luther geskryf. “Daar is twee soorte opvoeding. Die een leer ons om ’n lewe te maak en die ander leer ons om te lewe,” sê James Truslow Adams. En die tweede is waarskynlik belangriker as die eerste.

In vandag se gedeelte hoor ons God se antwoord op Dawid se gebed. Hy wil ons leer wat ons moet doen. Hy wil ons elke dag raad gee deur sy Woord en sy Gees, sodat ons mense van integriteit kan wees. Soos ’n onderwyser of besorgde ouer wil Hy nie net vir ons sê wat ons moet doen nie. Sy oog sal op ons wees. Hy wil kyk of ons reg gehoor het en of ons die regte ding reg doen. Hy los ons nie om maar self op te snork nie.

Jy sal onthou dat ’n mens nie juis leer as iets aan jou opgedwing word nie. Maar as jy geesdriftig oor iets raak, leer jy vanself. Daarom leer ons beter deur iets te doen as deur iets te memoriseer. Wat was jou geliefkoosde vak op skool? Hoekom? Was dit oor die inhoud van die vak, of oor die onderwyser? Ek raai dit was die onderwyser. En as die Here jou onderwyser is en jy Hom liefhet, wil jy graag sy hart bly maak en geniet jy die les.

GEBED: Here, leer my op u manier lewe.

Lees vanaand in Psalm 33:1-11 waarom ons elke dag die Here kan loof en prys. Kan jy minstens agt redes raaksien?

Uit die Beek 2015

Подняться наверх