Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 66

Оглавление

Donderdag 26 Februarie 2015 • Lees eers 1 Samuel 1:19b-28

Aan die Here gewy

Sy het hom as klein seuntjie weggebring na die huis van die Here toe in Silo (1:24).

GESELSVRAAG:

Wat is die moeilikste ding om aan die Here te gee?

“Jy moet nooit vir die Here sê daar is iets wat Hy nie van jou moet vra nie, want dan moet Hy dit van jou wegneem of laat wegneem om te wys dat Hy die Here is,” vertel iemand wat swaar beproewings deurgemaak het, maar be­sonder vrugbaar was in diens van die Here. Dit is dikwels die toets van ons oorgawe: Kan die Here enigiets van my vra? ’n Vriend vertel dat hy rugby moes laat vaar omdat dit vir hom ’n afgod geword het. ’n Ander gelowige vertel dat hy sy boot moes verkoop omdat dit hom van die kerk af weggehou het. Die Here wil Nommer Een in ons lewe wees.

Hanna het haar beloftes gehou. Sy het die Here belowe as Hy haar ’n kind gee, sal sy hom aan die Here toewy. Dit was nie vir haar maklik om haar seuntjie aan Eli se sorg toe te vertrou nie, maar sy het haar belofte nagekom. En die Here het ’n plan met hierdie seuntjie gehad. Hy sou die hele volk terug­lei na die Here toe, soos ons nog sal sien.

Die Here het ’n plan met ons elkeen – reeds van voor ons geboorte af. Dit sal tragies wees as enigeen van ons God se plan misloop, net omdat ons onwillig is om Hom te gehoorsaam. Ons kan die Here vertrou. As Hy dus iets van jou vra, kan jy dit met vreugde gee. Dit is oor en oor die moeite werd.

GEBED: Here, ek wil niks van U terughou nie. Gebruik my.

Lees vanaand in 1 Samuel 2:1-11 hoe Hanna die almag van God besing. Nou was haar aanbidding vir haar vreugde.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх