Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 68

Оглавление

Saterdag 28 Februarie 2105 • Lees eers 1 Samuel 2:27-36

Wie is die baas?

En waarom ag jy jou seuns belangriker as vir My …? (2:29).

GESELSVRAAG:

Hoekom het ons dissipline in ons huis nodig?

“Dit het my tydens my besoek aan Amerika getref hoe gehoorsaam die ouers aan hul kinders is,” het koning Edward VIII glo by geleentheid opgemerk. Ons kan amper dieselfde van ons ouers en kinders sê vandat dissipline uit baie van ons huise en skole verdwyn het. Baie ouers leef in vrees en bewing vir hul kinders en die kinders doen net wat hulle wil. Buite-egtelike seks en enkelouergesinne het algemeen geword. Die gevolg is dat duisende kinders alleen grootword sonder ouers wat hulle op die regte pad kan begelei. Jeugbendes het baie woonbuurtes oorgeneem. Misdaad is algemeen. Niemand is meer veilig nie.

Die seuns van Eli was ook sonder dissipline. Ons weet nie hoekom hulle so geword het nie. Het hul pa nie omgegee as hulle verkeerd doen nie? Ons lees van ’n keer dat hy met hulle gepraat het, maar hulle het hulle nie aan hom gesteur nie (vgl v 23-25). Eli kry dus die boodskap dat sy twee seuns op dieselfde dag sou sterf (vgl v 34).

Om ’n ouer te wees is ’n baie groot verantwoordelikheid. Ons moet nie net sorg vir elke behoefte van ’n kind nie. Ons moet self die regte voorbeeld stel, want kinders leer baie beter uit voorbeelde as deur woorde. Hoe gaan dit met jul gesin? Is jul kinders veilig?

GEBED: Here, help ons om ons prioriteite reg te kies ter wille van ons kinders en u koninkryk.

Lees vanaand in 1 Samuel 3:1-9 hoe die jong Samuel die Here se stem vir die eerste keer gehoor het.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх