Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 72

Оглавление

Dinsdag 3 Maart 2105 • Lees eers 1 Samuel 4:12-22

Was God afwesig?

Die eer is weggevat uit Israel (4:21).

GESELSVRAAG:

Oor wat in ons land is jy dankbaar?

“Waar was God dat Hy toegelaat het dat so ’n ramp ons skool tref?” het ouers gevra nadat kinders by die skool vermoor is. Die antwoord wat iemand daarop gegee het, was: “God word mos nie meer by die skole toegelaat nie. Sy Woord mag nie meer daar gelees word nie. Daar word nie meer gebid nie. Hy is ’n ware heer. As Hy nie welkom is nie, staan Hy opsy.” En dan sien ons wat gebeur as God nie meer in ons land is nie.

Die ark is uit die Allerheiligste gehaal om as gelukbringer in die oorlog te dien. God is nie daar om gebruik te word nie. Hy het dus toegelaat dat die simbool van sy teenwoordigheid in die hande van die vyand val. Die Filistyne het gejuig omdat hul afgod sterker was as die God van Israel – of so het hulle gedink. Hulle sou nog die swaar les leer dat God nie iemand is om mee te speel nie, soos ons verder aan sal lees.

Die nuus oor die ramp het die hele stad in oproer gehad. Dit het later ook by Eli uitgekom. Dat sy seuns dood was, het hy verwag sedert hy die Here se boodskap by herhaling gehoor het. Maar die groot ramp was dat die ark geroof was. Die heiligdom was leeg. Waar sou hulle weer ’n ark kry? Ontsteld het hy agteroor geval en sy nek gebreek. En Pinehas se vrou skenk die lewe aan Ikabod en sterf self. Maar God was steeds in beheer.

GEBED: Dankie dat U ons nooit sal verlaat nie, Here.

Lees vanaand in 1 Samuel 5:1-7 hoe die Filistyne leer dat God sterker is as enige afgod.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх