Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 65

Оглавление

Woensdag 25 Februarie 2105 • Lees eers 1 Samuel 1:1-8

Ongelukkige huwelik

So het dit jaar vir jaar gegaan: elke keer as Hanna in die huis van die Here gaan offer het, het Peninna haar gespot, sodat sy gehuil het en nie wou eet nie (1:7).

GESELSVRAAG:

Wat maak huwelike ongelukkig?

“Die Here het vir my gesê ek moet ’n tweede vrou neem,” sê ’n jong vader met groot oortuiging. Hy het gereken veelwywery is nie verkeerd nie. Hy het nooit raakgesien watter hartseer hierdie ontrouheid vir sy eie vrou en hul twee kinders veroorsaak het nie. Hy het ook nie opgelet dat God se plan met die huwelik net vir twee mense voorsiening maak nie (vgl Matt 19:5-6).

Elkana het ook twee vroue gehad, al was hy eintlik ’n Leviet van afkoms. En soos in alle ander huwelike met meer as een vrou, was sy huwelikslewe ook ongelukkig. Daar was nie eenheid tussen die vroue nie. Hanna was daarby onvrugbaar en dit het haar baie hartseer gemaak. Die eer van ’n vrou in daardie tyd was dat sy kinders, veral seuns, in die wêreld moes bring. Hanna het elke jaar gevrees wanneer dit tyd was om die offer in Silo te gaan bring, want dit was vir haar ’n groot vernedering. Peninna het met haar gespot en haar seergemaak. Elkana se trooswoorde het nie gehelp nie. Dit is in hierdie ongelukkige gesin dat Samuel uiteindelik gebore is.

Kinderloosheid bring vandag nog ongelukkigheid in baie huwelike. Maar kinders maak nie ’n huwelik gelukkig nie. Kinders het ’n gelukkige huisgesin nodig om gebalanseerd groot te word.

GEBED: Here, ek bid vandag vir alle ongelukkige huwelikspare.

Lees vanaand in 1 Samuel 1:9-19a hoe ernstige gebed vir Hanna vrede in haar hart gebring het.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх