Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 45

Оглавление

Saterdag 7 Februarie 2105 • Lees eers Levitikus 25:23-34

God se land

Julle is slegs vreemdelinge en bywoners by My (25:23).

GESELSVRAAG:

Wanneer behoort iets ten volle aan jou?

“Myne!” is een van die eerste woorde wat kindertjies aanleer en gebruik. Elke mens is van kleins af selfsugtig. As ons nie groei nie, bly ons selfsugtig en lewe net vir onsself. Dit veroorsaak oneerlikheid, korrupsie en wanadmini­strasie. Tradisioneel het alle grond in Afrika aan die hoofman behoort, en hy kon dit uitdeel aan wie hy wou, solank die eienaar dit reg bestuur. Anders kon hy dit aan iemand anders gee. Die Voortrekkers het dit nie besef nie, en dit het tot baie stryd en bloedvergieting gelei.

Die Israeliete moes leer dat die hele land aan God behoort. Elkeen kon ’n deel daarvan bestuur, maar hulle moes rekenskap gee aan die Eienaar. God het bepaal dat elke eiendom ná 50 jaar aan die oorspronklike eienaar teruggegee moes word as teenvoeter vir armoede. Mense het ook die reg gehad om hul eiendom voor daardie tyd terug te koop indien dit finansieel met hulle beter gaan. Slegs in die stede kon jy eiendom permanent koop (vgl v 29). Op die platte­land het jy eintlik net die opbrengs van die grond gekoop, nie die grond nie.

Hoe kan ons armoede in ons land bestry? Dit is die groot uitdaging vir die regering, die kerk en vir elke burger. Onkundiges praat van verdeling van rykdom – wat neerkom op verdeling van armoede, soos in Zimbabwe. Ons almal moet eers verander voordat ons vir ander mense sal omgee. Mag die Here ons daarmee help.

GEBED: Here, wys ons hoe ons armoede kan bestry.

Lees vanaand in Levitikus 25:35-46 hoe Israeliete verplig was om mekaar te help en vir mekaar te sorg.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх