Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 62

Оглавление

Maandag 23 Februarie 2105 • Lees eers Galasiërs 5:13-18

Die oorwinningslewe

Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie (5:16).

GESELSVRAAG:

Met watter verkeerde begeertes sukkel mense?

“Hoe gaan dit nou met jou, my vriend?” vra ’n sendeling aan ’n Indiaan wat sy lewe aan Christus oorgegee het. “Ek sien daar is nou twee wolwe hier in my binneste. ’n Goeie wolf en ’n slegte wolf. En hulle baklei,” was sy antwoord. “En watter een wen?” vra die sendeling. “Die een wat ek kos gee,” kom die antwoord.

Die dag as jy Christus aanneem, is dit nie die einde van die geveg nie. God se Gees kom in jou woon. Maar jou eie sondige natuur gee nie graag die beheer oor nie. Hy maak dat selfs Christene onder mekaar baklei (vgl v 14-15). Ons sondige natuur probeer keer dat God se krag ons lewe beheers. Maar as ons die beheer aan die Gees oorgee, verander ons radikaal. Ons staan nie meer onder die wet nie, maar ons is ook nie wetteloos nie (vgl v 18). Ons wil doen wat God wil, nie om daardeur gered te word nie, maar omdat ons dankbaar is vir alles wat Christus vir ons gedoen het.

Ken jy ook hierdie stryd? Moenie moedeloos word nie. Uit eie krag sal ons nooit God se wil kan doen nie. Daarom moet ons tot algehele oorgawe kom. Ons moet al die sleutels van ons lewe aan die Here oorgee. Hy wil ons hele lewe beheer en elke kamer skoonmaak (vgl v 25). Dan sal ons die vrug van die Gees dra.

GEBED: Here Jesus, ek kom gee my onvoorwaardelik aan u beheer oor. Heilig my, reinig my en vul my.

Lees vanaand in Galasiërs 5:19-26 hoe ons kan onderskei tussen die praktyke van ons sondige natuur en die vrug van die Gees.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх