Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 44

Оглавление

Vrydag 6 Februarie 2105 • Lees eers Levitikus 25:1-12

Landboubeginsels

… maar die sewende jaar moet die hele land ’n rustyd hê, ’n sabbatsjaar tot eer van die Here (25:4).

GESELSVRAAG:

Hoe kan ons die land ekologies herstel?

“Indien die mens dit regkry om alle insekte uit te roei, sal die hele aarde binne 50 jaar ’n groot woestyn wees,” lees ek op die internet. “Maar as alle mense deur ’n verskriklike ramp van die planeet af verdwyn, sal die hele aarde binne 50 jaar volkome herstel en die volle biodiversiteit sal terugkom.” Dit laat ’n mens dink, nè? Die grootste bedreiging vir die aarde is die mens.

Die Israeliete was nou op pad na die beloofde land. Maar die land sou nie aan hulle behoort nie. Dit is God se land. Hy bepaal dus hoe hulle daardie land vir Hom moet bestuur. Een van die bepalings is dat die land elke sewende jaar moet braak lê om van oorbeweiding en oorproduksie te herstel. In daardie jaar sou hulle die Here kon vertrou om vir hulle te voorsien. Dit was dus ’n geloofstap om dié beginsels in die praktyk toe te pas.

Baie van ons kan getuig hoe wonderlik weiding kan herstel as jy ’n kamp ’n jaar lank kan laat rus. Maar ons sien ook oral in ons land dele wat deur oorbeweiding in ’n woestyn aan ’t verander is. Aardverwarming is ’n feit, en die manier waarop mense die aarde uitbuit en wanbestuur, het baie daarmee te doen. Ons kan gerus weer ’n slag na die Bybel luister.

GEBED: Here, help my om die stukkie aarde wat U aan my toevertrou het, reg en volhoudend te bestuur.

Lees vanaand in Levitikus 25:13-22 dat elke familie elke 50 jaar hul grond sou terugkry. Sou dit in ons land ’n oplossing wees?

Uit die Beek 2015

Подняться наверх