Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 53

Оглавление

Saterdag 14 Februarie 2105 • Lees eers Galasiërs 1:11-24

Pasop vir dwaalleraars

… die evangelie wat ek verkondig, is nie deur ’n mens uitgedink nie (1:11).

GESELSVRAAG:

Wat moet ons doen om gered te word?

“Wat my pla, is hoe streng die Here gaan merk op die oordeelsdag,” merk ’n ouderling by ’n wyksbyeenkoms op. Dit is ’n vraag wat baie lidmate pla, veral omdat ’n mens bewus geword het van God se heiligheid tydens ons studie van Levitikus. Kan ’n mens ooit goed genoeg wees om die hemel te verdien?

Galasië het ’n groot deel van die hedendaagse Turkye uitgemaak. Paulus was die eerste sendeling wat die evangelie dáár gaan uitdra het. Nou moes hy hoor dat daar ander leraars ná hom gekom het wat ’n ander boodskap verkondig het. Hulle het die mense geleer dat ’n nie-Jood eers ’n Jood moes word deur hom te laat besny voordat hy gered kan word. Paulus stuur dus hierdie ernstige brief aan die gemeente om hulle te waarsku teen dié dwaling.

Dié kosbare brief is ook vir ons bewaar sodat ons die troos kan hê dat ons uit genade alleen gered word. Ons ontvang dit deur geloof, nie verdienste nie. Dit is op grond van wat Jesus gedoen het, nie wat ons gedoen het nie. Alle ander godsdienste is gegrond op verdienste. Jy moet goed genoeg wees. Daarom kan geen ander godsdiens vir jou sekerheid gee nie. Hulle hoop maar vir die beste. Maar die evangelie wat van God af kom, is heel anders. Ons kan God se genade sonder verdienste ontvang. Maak bloot jou lewe vir Hom oop. Wat ’n wonderlike boodskap.

GEBED: Dankie dat U vir ons die pad na redding berei het, Here.

Lees vanaand in Galasiërs 2:1-5 hoe Paulus die gesag van die kerk in Jerusalem ook agter hom gehad het.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх