Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 48

Оглавление

Dinsdag 10 Februarie 2015 • Lees eers Levitikus 26:14-22

As julle nie wil luister nie

… as julle my voorskrifte en bepalings verwerp en met minagting behandel, sodat julle nie my bevele nakom nie en my verbond verbreek … (26:15).

GESELSVRAAG:

Hoekom is dit goed om ongehoorsaamheid te straf?

“Dis onregverdig!” is die meeste tieners se reaksie as hul ouers dissipline probeer handhaaf. Hulle verstaan nog nie dat dissipline tot selfdissipline lei, wat hulle sal help om die uitdagings van die volwasse lewe die hoof te bied nie. Hul ouers weet watter gevare en uitdagings daar buite wag. Hulle wil hul kinders dus daarvoor voorberei en daarteen beskerm.

Levitikus sluit af met die Here se vaderlike vermanings wat die volk aanmoedig om gehoorsaam te bly. Sy opdragte gaan gepaard met beloftes, asook waarskuwings oor die verskriklike gevolge van ongehoorsaamheid. Kyk net wat gebeur as ons nie wil luister nie: angs, siektes, misoeste, misdaad, geweld, droogte en roofdiere. Sonde lei onvermydelik tot straf.

Die volk Israel (en ons) kon kies watter pad hulle wou loop: saam met die Here, of weg van Hom af. Wat ons ook al kies, het gevolge. Ons woorde en voorbeeld lei ook ons kinders en kleinkinders op een van daardie twee paaie. Daar kom dus ’n dag dat ons ’n keuse moet maak. Gaan ons Jesus volg, of ons eie kop? Ons besluit sal ons toekoms bepaal. Wat kies jy?

GEBED: Here, ek en my kinders wil U so graag dien. Help ons om u leiding te gehoorsaam.

Lees vanaand in Levitikus 26:23-38 watter ander rampe sal volg as die volk hulle nie bekeer nie. Watter hiervan sien ons reeds?

Uit die Beek 2015

Подняться наверх