Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 55

Оглавление

Maandag 16 Februarie 2105 • Lees eers Galasiërs 2:6-10

Elkeen het ’n werk

Ons het ooreengekom dat hulle die evangelie aan die Jode sou verkondig, en ons aan die nie-Jode (2:9).

GESELSVRAAG:

Wat doen jy vir die Here?

“Net soos die liggaam ’n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus,” skryf Paulus in 1 Korintiërs 12:12. Die kerk van die Here is ook nie net een denominasie nie. Alle ware gelowiges vorm saam die liggaam van Christus op aarde. Ons moet mekaar aanvul en mekaar ondersteun. As ons teen mekaar begin werk, is dit ’n teken van ’n kanker. Maar as ons mekaar aanvaar en elkeen doen die spesiale werk waarvoor die Here ons geroep het, versterk ons die hele liggaam.

Die apostels het gou besef dat die Here besondere gawes aan hulle elkeen gegee het met die oog op die werk wat hulle vir Hom moes doen. Hulle het besef dat Paulus geroep en toegerus was om oor kultuurgrense heen die evangelie aan nie-Jode te verkondig. Sommige van hulle was weer beter toegerus om teenoor Jode te getuig.

Ook in jul eie gemeente is daar ’n groot verskeidenheid van gawes. Ons almal verskil van mekaar, maar ons vul mekaar aan. Ons moet mekaar ’n kans gee om ons talente ten volle in diens van die Here uit te leef. Ongelukkig is dit in baie gemeentes net ’n klein groepie oorwerkte gelowiges wat alles probeer doen.

GEBED: Here, maak my gewillig om die werk waarvoor U my toegerus het, tot u eer te doen.

Lees vanaand in Galasiërs 2:11-14 hoe Christene mekaar moet help as een of meer van die suiwer leer afdwaal.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх