Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 49

Оглавление

Woensdag 11 Februarie 2105 • Lees eers Levitikus 26:39-46

Omdraai is moontlik!

Ek sal my beloftes oor die land weer van krag maak (26:42).

GESELSVRAAG:

Wat moet in ons land verander?

“Ons seun het sy rug vir ons gedraai en wil niks meer met ons te doen hê nie. Hy beantwoord nie ons oproepe of briewe nie,” kla ’n vriendin. Sy en haar man is baie hartseer omdat hul seun die pad wat hulle hom probeer aanwys het, verlaat het en blykbaar net vir plesier en rykdom lewe.

Só voel die Here ook wanneer sy volk hul rug op Hom keer en vir die wêreld, rykdom en plesier probeer lewe. Hy gee soveel om dat Hy beproewings oor ons pad sal stuur totdat ons besef dat ons op die verkeerde pad is en na Hom toe terugkeer. En dan belowe Hy om al sy beloftes aan sy volk weer waar te maak. Hy sal hulle seën en terugbring uit die ballingskap. Die voorwaarde is terugkeer en skuldbelydenis (vgl v 43).

Dit is maklik om oor ons land te kla en te vertel van alles wat verkeerd is. Is dit die ongelowiges se skuld? Of is dit dalk die gelowiges s’n? Hoe vergelyk jou kerkbywoning nou met dié van 10 jaar gelede? Hoe betrokke was jy tóé by die kerk? Hoe getrou het jy jou kant gebring by verskillende projekte? Dit kan wees dat Christene al net soos ongelowiges lewe, met die gevolg dat min ongelowiges die begeerte het om te verander. Dalk is dit tyd dat ons onsself op ons knieë toets en na die Here toe terugkom.

GEBED: Here, ek sien baie dinge wat verkeerd is. Wys my wat by my verkeerd is sodat ek dit in u Naam kan regstel.

Lees vanaand in Levitikus 27:1-13 hoe spesiale geloftes aan die Here hanteer moet word.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх