Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 56

Оглавление

Dinsdag 17 Februarie 2105 • Lees eers Galasiërs 2:15-21

Jy kan vrygespreek word

En tog weet ons dat ’n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo (2:16).

GESELSVRAAG:

Wanneer word iemand in die hof vrygespreek?

“Wat moet ons doen om gered te word?” het ek ’n groep Xhosas tydens ’n buitediens in die Ciskei gevra. “Hou die wet!” het die antwoord soos in ’n koor gekom. Dit is wat hul leraar of ouderling by hulle ingedril het. Maar dit is presies die teenoorgestelde van wat die Here se Woord vir ons in Galasiërs leer. Ongelukkig is daar ook baie van ons eie lidmate wat dieselfde verkeerde idee het.

Dit is nie duidelik of hierdie verse deel is van Paulus se antwoord op Petrus se verkeerde optrede nie. In die oorspronklike Grieks word daar nie aan­halingstekens gebruik nie. Paulus sowel as Petrus was Jode en hulle het oor baie dinge saamgestem. Hulle was dit ook eens dat ons net deur geloof gered kan word, nie deur ’n reeks wette te gehoorsaam nie. Ons word vrygespreek, al was ons ook skuldig, omdat Iemand ons skuld en straf in ons plek gedra het. Die skuld is reeds betaal. Dit het sy bloed gekos. Dit is dus nie “goedkoop genade” nie. Dit is baie duur genade.

Maar dit gee ook vir ons elkeen wat nog nie volmaak is nie hoop vir die ewigheid. Uit eie krag het ons nie ’n kans om aan God se norme te voldoen nie. Dit is waarom Jesus na die aarde moes kom.

GEBED: Dankie, Here Jesus, dat U my skuld op U geneem het.

Lees vanaand in Galasiërs 3:1-9 dat alle geestelike seëninge net deur geloof ontvang kan word, nie deur verdienste nie.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх