Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 54

Оглавление

Sondag 15 Februarie 2105 • Lees eers Psalm 29:1-5

Die stem van die Here

Die stem van die Here is magtig, die stem van die Here is vol majesteit (29:4).

GESELSVRAAG:

Waar kan ons vandag die stem van die Here hoor?

“Die honde se ore is baie gevoelig vir geluide,” vertel my dogter. “As daar donder­weer is, is hulle totaal verskrik. Hulle storm in die huis in en sowel die Deense hond as die skaaphond probeer onder die koffietafeltjie wegkruip.” Mense se ore is minder gevoelig. Tog wil ’n mens soms uit die kerk vlug as die musiekgroep die klank so oorverdowend hard stel dat jy oorpyn daarvan kry.

Dawid beskryf die donderweer in hierdie psalm as God se stem. Ons almal wat ’n regte, egte elektriese storm beleef het, het groot respek vir die weerlig. Almal ruk van die skrik as die bliksem naby tref. Maar God praat nie altyd so hard nie. Soms praat Hy met ’n fluistering in die windstilte (vgl 1 Kon 19:12).

God praat ook op ander maniere met ons. Soms praat Hy deur ’n storm of ’n ander ramp. Maar dikwels praat Hy ook met ons deur mense. Vandag sal miljoene mense die Here met hulle hoor praat waar hulle in hul gemeentes vergader. Dit hoef nie noodwendig deur die preek te wees nie. Dit kan ook in die woorde van ’n lied wees, of in ’n gebed. Soms ervaar ons dat die Here in die stilte met ons praat deur sy Gees, as ons ingestem is om na Hom te luister. Wat het jy vandag by die Here gehoor? Of verlede week?

GEBED: Here, vandag is u dag. Help my om vandag u stem te hoor waar ek ook al gaan. Ek wil doen wat U my beveel.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх