Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 61

Оглавление

Sondag 22 Februarie 2105 • Lees eers Psalm 30:1-6

Praktiese aanbidding

Here my God, ek het na U geroep om hulp en U het my gesond gemaak (30:3).

GESELSVRAAG:

Waarmee het ons vandag hulp nodig?

“Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer,” lees ons in vers 6. Voel jy ook so? In die nag lyk dinge duister as ons op die bed lê en rondrol. Maar sodra die son opkom, sien ons weer kans vir die volgende skof. Daar is min van ons wat nie hierdie soort ding ken nie. Dit is maar deel van die lewe.

Dawid het hierdie lied gekomponeer om by die inwyding van die tempel gesing te word. Dis ’n duidelike bewys dat sy geloof baie met sy daaglikse lewe te doen het. Wanneer hy teenstand van mense ervaar, soek hy hulp by die Here. Wanneer hy siek is, doen hy dieselfde. Sy geloof en sy daaglikse lewe kan nie geskei word nie. Sy loflied gaan dus nie net oor God wat daar ver is nie, maar ook oor God wat elke dag by hom is. God is nie net vir Sondae nie, maar ook vir Maandae tot Saterdae.

“Ons eredienste het heeltemal verander sedert ek in die erediens plek gemaak het vir sake vir voorbidding,” vertel ’n kollega. Hy nooi mense om vorentoe te kom of om onderwerpe vir voorbidding vooraf aan hom te stuur. En dan bid hy vir elke persoon wat die vrymoedigheid gehad het. “En dis wonderlik hoe die Here ons gebede verhoor,” vertel hy verder. Jy het ook vandag ’n kans om jou bekommernisse na Hom te neem. Verwag jy dat iets gaan gebeur?

GEBED: Here, ek wil U loof – verhoor asseblief my gebed.

Lees vanaand in Psalm 30:7-13 hoe Dawid vertel van sy innerlike stryd en hoe die Here hom daarna blydskap gegee het.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх