Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 46

Оглавление

Sondag 8 Februarie 2015 • Lees eers Psalm 28:1-5

As God swyg

As U bly swyg, sal ek wees soos ’n sterwende (28:1).

GESELSVRAAG:

Wanneer het jy gevoel God antwoord jou nie?

“As God vir ons is, wie kan teen ons wees?” staan op ’n bord wat ons van ’n Indiese kollega gekry het. Hy het dikwels met baie teëstand te doen, dus was dit interessant om sy positiewe gesindheid te sien. Dit is maklik om depressief te raak as dinge verkeerd loop of as ons met teëstand te doen kry, soos Dawid hier getuig. Hy voel soos iemand wat sterwend is, want hy hoor niks van die Here nie.

Vir baie mense is dit ’n probleem as hulle nie dadelik duidelike leiding kry nie. Moet ek van werk verander? Moet ek na ’n ander dorp of land toe trek? Moet ek ’n ander motor koop? Moet ek verder gaan studeer? Is hy of sy die regte lewensmaat vir my? Hoekom is ons kinders so opstandig en ons kommunikasie so sleg? Jy bid al so lank vir die bekering van een van jou kinders, maar dit lyk asof hy of sy al hoe verder afdwaal.

Die probleem is dat ons so besig is met allerlei dinge dat ons nie tyd kry om werklik stil te word en na God se stem te luister nie. Ons tyd word gevul met tydelike dinge, terwyl ons eintlik ons tyd moes bestee het om die Here beter te leer ken. Vandag is die rusdag wat bedoel is om ons tyd te gee om die Here te leer ken. Gebruik ons al die geleenthede wat Hy ons gee? Dikwels is dit nie die Here wat doof is vir ons nie, maar ons wat doof is vir sy stem. Ons sal sy stem net ken as ons tyd saam met Hom deurbring.

GEBED: Here, laat hierdie dag tog tel vir die ewigheid.

Lees vanaand in Psalm 28:6-9 hoe Dawid die Here loof omdat sy gebede verhoor is. Hoe doen ons dit?

Uit die Beek 2015

Подняться наверх