Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 59

Оглавление

Vrydag 20 Februarie 2015 • Lees eers Galasiërs 4:8-20

Dominee se passie

My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry (4:19).

GESELSVRAAG:

Wat is die hoofwerk van ’n predikant?

“Kyk na my!” sê die mamma en sit haar hande aan weerskante van haar seuntjie se kop sodat hy dit nie kan wegdraai nie. “Kyk in my oë.” Nou kan sy hom ernstig vermaan. Hy besef sy is ernstig. Dis nie lekker nie, maar nou sal hy onthou om gehoorsaam te wees sodat berisping nie weer nodig sal wees nie. Klink dit nie bekend nie?

Paulus is bekommerd dat sy geestelike kinders vir die stories van die dwaalleraars sal swig. Indien hulle glo dat ’n mens verlossing moet verdien, val hulle terug in ’n godsdiens soos al die ander godsdienste. Dan is die evangelie nie meer goeie nuus nie. Dit word weer ’n lys van moets en moenies. Paulus wou hê die gelowiges moes die familietrek van liefde en toewyding openbaar. Christus moet gestalte in hulle kry, sê hy. Hulle moet al hoe meer soos Jesus word.

Hierdie radikale verandering kom nie deur wette te gehoorsaam nie. Jy verander om soos ander mense te wees deur tyd saam met hulle deur te bring. ’n Kuiertjie een maal per week is nie goed genoeg nie. Jy moet hulle leer ken deur elke dag by hulle te wees. So moet ons ook tyd met ons hemelse Vader deurbring. Elke leraar se passie is om die gelowiges daarmee te help.

GEBED: Hemelvader, verander my om soos Christus te lewe.

Lees vanaand in Galasiërs 4:21-27 hoe godsdiens tot slawerny of tot vryheid kan lei.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх