Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 58

Оглавление

Donderdag 19 Februarie 2105 • Lees eers Galasiërs 3:21-29

Ons nuwe familie

En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God (3:29).

GESELSVRAAG:

Wie is almal familie van ons?

“Ek wens ek het ’n getuienis soos joune gehad. Ongelukkig het ek in ’n Christelike huisgesin grootgeword,” sê ’n jong meisie aan iemand wat in ’n onverskillige huis grootgeword het en uit satanisme en dwelmverslawing gered is. “Weet jy hoe wens ek ek het ’n getuienis soos jy gehad? Ek sou wat wou gee om in ’n Christelike huis te kon grootword,” was sy antwoord. Ons kan nie ons verlede verander nie, maar deur die genade van die Here kan ons ons toekoms verander.

Die Galasiërs was nie Jode nie. Hulle het as heidene grootgeword. Maar nou het hulle die evangelie gehoor en die Here Jesus as Verlosser leer ken. Paulus verduidelik nou aan hulle dat hulle deur die geloof in Jesus deel van ’n nuwe familie geword het. Hulle was nou nie net afstammelinge van Abraham nie (vgl v 29), maar hulle het kinders van God geword (vgl v 26). Hul verlede en herkoms maak nie meer saak nie. In Christus is hulle nou almal broers en susters (vgl v 28).

Die gemeentes in Galasië het dus uit mense uit baie verskillende kulture en stande bestaan. Sommige was handelaars en ander slawe. Maar hulle het almal familie van mekaar geword en mekaar leer liefkry.

GEBED: Dankie dat ek nou deel is van u groot familie, Here.

Lees vanaand in Galasiërs 4:1-7 hoe Christus ons van die slawerny van die wet kom vrymaak het.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх