Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 50

Оглавление

Donderdag 12 Februarie 2105 • Lees eers Levitikus 27:14-25

Die Here s’n

As iemand ’n deel van sy grond aan die Here wy … (27:16).

GESELSVRAAG:

Waarvoor sou iemand grond aan die Here wou wy?

“Ek wil ’n deel van my plaas, daar bo by die dam onder die bome, beskikbaar stel vir jeugkampe,” het oom Henry besluit. Die jongmense het met groot vreugde van sy gasvryheid gebruik gemaak en elke jaar met die Paasnaweek daar gaan kamp. Dan het hulle tydelike hutte van pale en spoorweg­seile opgeslaan, met primitiewe bankies en ’n preekstoel. Gedurende daardie naweke het honderde jongmense tot oorgawe aan Christus gekom. Baie van hulle en hul nageslag is vandag nog in heeltydse sendingdiens. Wat ’n vrugbare belegging.

Die laaste hoofstuk van Levitikus sit die praktiese reëlings uiteen vir iets of iemand wat ten volle aan die Here gewy word. Mense en onrein diere kan losgekoop word, maar rein diere nie. Vaste eiendom kan ook losgekoop word. Indien nie, word dit dan in die Jubeljaar die eiendom van die Leviete. Die waarde van die eiendom is bereken volgens die oeste wat dit kan lewer.

Ons moet onthou dat alles eintlik aan die Here behoort. Ons huis en ander eiendom behoort dus ook aan die Here. Ons moet dit tot sy beskikking stel hoe dit ook al nodig is. Soms vir ’n wyksbyeenkoms of kleingroep, ander kere vir ’n straatbraai, of dalk ’n plek waar die bure se kinders kan studeer tot hul ouers van die werk af kom. Wat van joune?

GEBED: Ek wy alles, ook my huis, aan U, Here.

Lees vanaand in Levitikus 27:26-34 dat ’n tiende van die kudde aan die Here gegee moet word.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх