Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 43

Оглавление

Donderdag 5 Februarie 2105 • Lees eers Levitikus 24:1-9

Lig in die donker

Aäron moet sorg dat daar dwarsdeur die nag ’n lig brand in die tent van ontmoeting … (24:3).

GESELSVRAAG:

Wat doen julle tydens ’n kragonderbreking?

“Ek is die koning van die duisternis,” probeer die duiwel ’n tannie bang maak. “O, dan werk jy seker vir Eskom!” reageer sy. Dit is maar een van die baie grappies wat die ronde doen sedert ons nie aldag seker is van ons elektriese toevoer nie. Ons is so gewoond aan elektriese krag dat ons vergeet mense het eeue lank goed daarsonder klaargekom. En as die elektriese toevoer onderbreek word, sit ons met die hande in die hare, want alles wat ons doen, het elektrisiteit nodig.

Die Israeliete se kamp het nie straatligte gehad nie. Elke tent het net ’n klein liggie gehad wat nie lank gebrand het nie. Almal is vroeg bed toe, want olie was skaars. Hier en daar het nog ’n vuurtjie gebrand, maar die kamp was gou in duister gehul. Maar op een plek was daar nie donkerte nie. In die tabernakel het daar ’n lamp met sewe vlammetjies gestaan en dié het die hele nag deur gebrand. Dit was die simbool dat die Here die hele nag wakker was en oor sy volk gewaak het. Dit herinner ons daaraan dat die Here Jesus vandag nog vir ons intree (vgl Rom 8:34). Hy slaap nooit nie.

As jy vanaand bekommerd is en nie kan slaap nie, onthou: Daar is Iemand op wag. Hy sluimer of slaap nie. Sy lig gaan nooit uit nie – vertrou Hom met jou bekommernisse (vgl 1 Pet 5:7).

GEBED: Dankie dat U altyd wakker is, Here.

Lees vanaand in Levitikus 24:10-23 hoe lewensgevaarlik dit is om God se Naam ydellik te gebruik.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх