Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 23

Оглавление

Saterdag 17 Januarie 2105 • Lees eers Levitikus 13:29-39

Eensaam en verstote

Die persoon is onrein (13:36).

GESELSVRAAG:

Watter mense word deesdae vermy?

“My beste vriendin is ’n dokter. Toe sy my in haar spreekkamer vertel dat die toetse wys dat ek MIV-positief is, het ek opgelet dat sy nie weer haar mediese handskoene uitgetrek het voor sy my gegroet het nie. Op daardie oomblik het ek besef dat ons vriendskap daarmee heen is,” vertel ’n predikant se dogter. Mense is bang om aan te steek, en wil dus niks te doen hê met mense wat met die MI-virus moet saamleef nie. Daarom verkies die meeste mense om eerder hulle MIV-status geheim te hou.

Die Israeliete het dieselfde gevoel oor mense wat ’n velsiekte gehad het. Hulle was bang dit is dalk melaatsheid, of dalk ’n tipe velkanker. Daarom is sulke mense uit die kamp verdryf. Hulle moes so ver hulle loop, roep: “Onrein, onrein!” om die ander mense te waarsku om weg te bly. Wat ’n ontsettende eensaamheid.

Die Here Jesus het ’n ander benadering tot sulke mense gehad. Hy was nie bang om hulle aan te raak nie (vgl Matt 8:3). Hy het melaatse mense genees (vgl Luk 17:12-14). Hy het saam met hulle gebly en geëet (vgl Mark 14:3). Miskien ken jy ook mense wat vereensaam is en ’n groot behoefte het aan iemand wat na hulle sal uitreik. Die Here wil dit deur jou doen. Is jy gewillig om Jesus se hande en voete te wees? Of voel jy self verstote?

GEBED: Gee my die liefde om uit te reik na verstote mense, Here.

Lees vanaand in Levitikus 13:40-46 hoe die gevaar van ’n bleskop ondersoek is.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх