Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 21

Оглавление

Donderdag 15 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 12:1-8

Die wonder van geboorte

Hierdie wet is van toepassing op enige vrou wat ’n kind in die wêreld bring, of dit nou ’n seun is of ’n dogter (12:7).

GESELSVRAAG:

Hoe vier ons die koms van ’n nuwe baba?

“In my navorsing het ek gevind dat daar iets goddeliks gebeur in die ontwikkeling van ’n baba voor geboorte,” vertel ’n mediese wetenskaplike. Hy het met die jongste tegnologie nagevors hoe ’n mens ontwikkel van een bevrugte sel tot ’n volledige mensie met al die liggaamsdele op die regte plek en met die regte vorm en funksie. Daar is soveel dinge wat verkeerd kan gaan, en tog word verreweg die meeste babas normaal gebore. Dit is wonderlik.

Ons kyk maklik vas teen die onderskeid wat in hierdie gedeelte gemaak word ten koste van dogters. Hoekom is ’n ma twee maal langer onrein met ’n dogter as met ’n seun? Iets hiervan kom vandag nog voor in kulture in byvoorbeeld Sjina en Indië. Hierdie seremoniële wette geld in elk geval nie meer vir Christene nie (vgl Gal 3:28). Mans en vroue is gelyk voor God. Ons mag nie diskrimineer nie.

Wat wel van belang is, is dat God belangstel in die baba en die ouers, van die eerste dag af. Dit is Hy wat die baba gevorm het (vgl Ps 139:13). Die baba moet aan Hom gewy word – in die geval van seuntjies was dit met die besnydenis (vgl Lev 12:3). Ná die koms van Christus word die seuns sowel as die dogters gedoop, in die plek van die besnydenis (vgl Kol 2:11-12). Hierdie gedeelte verklaar ook waarom Josef en Maria twee duiwe as offers gebring het (vgl Luk 2:24).

GEBED: Here, ons wy ons en ons kinders ten volle aan U.

Lees vanaand in Levitikus 13:1-8 hoe aansteeklike velsiektes in daardie tyd beheer is.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх