Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 18

Оглавление

Maandag 12 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 9:15-24

As God verskyn

Die magtige teenwoordigheid van die Here is toe aan die hele volk geopenbaar … (9:23).

GESELSVRAAG:

Vertel hoe jy op ’n keer van God se teenwoordigheid bewus geword het.

“Die slegte nuus is: Daar is nie ’n God nie; die goeie nuus is: Daar is nie ’n God nie,” het die advertensie van ’n groep ateïste op ’n rooi Londense bus gelui. Hulle was oortuig dat God nie bestaan nie. Hulle kan dus doen wat hulle wil. Kan jy hulle antwoord uit jou eie ervaring?

Die mense wat daardie dag by Aäron en sy seuns se wyding teenwoordig was, sou nooit so ’n stelling kon aanvaar nie. Hulle het geweet dat God wel bestaan. Sy magtige teenwoordigheid het gesorg dat hulle van vreugde uitgeroep en op hulle knieë (letterlik: hul gesigte) geval het in aanbidding. En tog het hierdie indruk nie ’n langdurige werking gehad nie. Hulle het maar weer van die Here afgedwaal.

Ons wens soms dat die Here Hom weer so aan sy mense sal openbaar. Op Pinkstersondag het Hy dit gedoen in die vorm van vuur wat in tonge verdeel en op die gelowiges gekom het (vgl Hand 2:3). Dit het hul tonge losgemaak en hulle het vrymoedig van God se dade getuig. Die vuur wat God gegee het, moes altyd aan die brand gehou word. Dieselfde Gees van Pinkster leef in elke gelowige. Gee Hom die kans om jou aan die brand te steek.

GEBED: Here, steek my aan die brand vir U!

Lees vanaand in Levitikus 10:1-7 oor die groot gevaar van mensgemaakte vuur wat nie vir God aanvaarbaar is nie.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх