Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 20

Оглавление

Woensdag 14 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 11:20-38

Wat eet jy nie?

Verder is alle viervoetige wilde diere wat nie hoewe het nie, onrein (11:27).

GESELSVRAAG:

Watter soort kos sal jy nooit eet nie?

“Hierdie dis is darem heerlik. Ek wonder wat dit is,” sê ’n toeris in Sjina aan sy maat. Hy probeer met die kok praat, maar dié kan net Sjinees verstaan. “Pik-pik-pikkêk?” vra die toeris terwyl hy na die dis wys. Toe gaan die lig vir die kok op. Hy skud sy kop. “Woef-woef!” verduidelik hy. En skielik kon die toeris nie verder eet nie.

Al hierdie seremoniële wette klink vir ons vandag baie vreemd.

Wat sou die doel daarvan wees? Daar is wel goeie higiëniese redes waarom sekere kosse in daardie omstandighede verbode was. Maar die hoofrede was seker dat die Israeliete anders moes wees as die volke rondom hulle. Hulle moes nie in die versoeking kom om soos die ander volke te doen nie, want dit sou hulle onvermydelik na afgodsdiens lei.

Volgelinge van die Here Jesus kom uit elke volk en taal. Hierdie wette geld nie vir hulle nie. Jesus het alle kos rein verklaar (vgl Mark 7:9). Petrus moes leer dat alle kos aanvaarbaar is (vgl Hand 10:15). Hulle kon nie die Joodse gewoontes op die bekeerlinge uit ander kulture afdwing nie. Paulus moes Petrus by geleentheid sterk aanspreek omdat sy Joodse hart ’n struikelblok vir die evangelie geword het (vgl Gal 2:11-14). Paulus het geleer om hom by die plaaslike kultuur aan te pas ter wille van die evangelie (vgl 1 Kor 9:19-23).

GEBED: Here, help my om te onderskei wat vandag reg is.

Lees vanaand in Levitikus 11:39-47 hoe die Here die doel van dié vreemde wette verduidelik.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх