Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 9

Оглавление

Saterdag 3 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 4:13-26

Versoening vir nasionale sondes

As die hele volk Israel onopsetlik sondig, en ’n misdaad teen die Here begaan sonder dat hulle weet dat hulle ’n gebod van die Here oortree … (4:13).

GESELSVRAAG:

Watter sondes is deesdae algemeen in ons land?

“Hoe sou ons land gelyk het as ons die Tien Gebooie sou omdraai en dan daarvolgens lewe?” vra ek by geleentheid aan die gemeente. Die skokkende ontdekking was dat ons dan feitlik presies uitkom by wat tans in ons land aan die gang is. Dit lyk werklik asof die Tien Gebooie geen invloed meer in ons daaglikse lewe het nie. En die gevolg is alles is aan die verkeerd loop.

Hier maak die Here voorsiening daarvoor dat die hele gemeente soms kan dwaal. Dit het al gebeur dat ’n kerkvergadering besluite neem wat hulle agterna ontdek het teen God se wil was. Ons kan maklik uit gewoonte of omdat ons in ’n sekere kultuur grootgeword het, dink dat alles in daardie kultuur reg is. Dit is nodig om elke keer weer na die Skrif te gaan kyk en onsself te toets. Dit kan gebeur dat die Here ons oortuig dat ons verkeerd was in sekere besluite of optredes. Dan moet ons dit bely en laat staan. Christus se eenmalige offer was groot genoeg om dit ook te dek.

’n Engelse vriendin het gereeld die ongemaklike vraag gevra: “Maar is dit reg?” Meermale moes ons bely dat ons optrede nie suiwer was nie.

GEBED: Vergewe ons waar ons van u Woord afgedwaal het, Here.

Lees vanaand in Levitikus 4:27-35 wat jy moet doen as iemand anders jou op sonde in jou lewe wys. Hoe doen ons dit vandag?

Uit die Beek 2015

Подняться наверх