Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 10

Оглавление

Sondag 4 Januarie 2015 • Lees eers Psalm 23:1-4

Die regte Leier

Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam (23:3).

GESELSVRAAG:

Waarvoor het jy vanjaar krag en leiding nodig?

“Gee my krag!” het tant Annie soms gesug as haar kinders die een of ander onhebbelikheid aangevang het. En as ons dink aan al die uitdagings wat vanjaar op ons wag, voel ons ook so. Ons weet dat die kanse gering is dat dinge vanjaar makliker sal wees as verlede jaar. Ons almal het die Here se krag nodig vir alles wat op ons wag.

Dawid herinner ons daaraan dat ons Herder wel vir ons krag wil gee. Ons kan elke dag saam met Hom begin. Hy sal ons dra waar ons nie meer self kan loop nie. Maar omdat Hy die goeie Herder is, kan ons seker wees dat die paaie waarop Hy ons gaan lei, die beste vir ons sal wees. Ons kan dus hier aan die begin van die jaar besluit dat ons die regte paaie wil loop, sodat Hy daardeur geëer kan word.

Kom ons word vandag ’n slag stil en ondersoek onsself. Wat kan ons verander? Wat is die regte paaie? Miskien gereelde huisgodsdiens saam met ons kinders of huishulp? Miskien meer betrokke raak by ons skole of by die tehuis vir bejaardes? Wat wil Hy deur ons in ons gemeente doen? Hoe kan ons ons kollegas of vriende ondersteun? Ons moet die regte voorkeure vir hierdie jaar kies. Skryf ’n paar neer op die laaste bladsy van hierdie boek. Dan kan jy aan die einde van die jaar gaan kyk hoe ver jy gevorder het.

GEBED: Dankie vir u krag en leiding vir 2015, Here.

Lees vanaand in Psalm 23:5-6 hoe die Christen se lewe elke dag ’n fees kan wees. Wat is jou aandeel aan hierdie fees?

Uit die Beek 2015

Подняться наверх