Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 3

Оглавление

Voorwoord

Baie welkom by nog ’n jaar van saam luister na die Woord van God. Ons sal om die beurt ’n boek uit die Ou Testament en die Nuwe Testament bestudeer. As jy die siklus die afgelope vyf jaar saam met ons deurloop het, het jy al 66 boeke in die Bybel van voor tot agter deurgelees. Daarom is dit belangrik om ook die aandgedeelte elke dag te lees.

Gebruik die Gebedsgids in die boek om jou te help om elke dag sinvol voorbidding te doen, sonder om in dieselfde rympie te verval.

Ds AJ van Wijk (sr) het in 1925 begin om hierdie oordenkings te skryf. Sedert 1927 is dit Uit de Beek genoem, na aanleiding van Psalm 110:7 in die Nederlandse Bybel: “Hij zal op den weg uit de beek drinken; daarom zal Hij het hoofd omhoog heffen.” ’n Beek is natuurlik ’n bergstroompie. Die gedagte is dat ons ons elke dag moet verfris by die vars water van die Woord. Sedert 1929 is dié oordenkings in Afrikaans geskryf, wat Uit die Beek die oudste Bybeldagboek in Afrikaans maak. Hierdie uitgawe is die 89ste. En ons sal sien dat die Bybel elke dag steeds byderwets, nuut en vars is. Die huidige skrywer is ’n kleinseun van die oorspronklike skrywer. As jy hom wil kontak, sy e-posadres is attie.vanwijk@gmail.com.

In die Ou Testament lees ons vanjaar uit Levitikus, 1 en 2 Samuel, Job en Esegiël; en in die Nuwe Testament uit Lukas, Galasiërs, 1, 2 en 3 Johannes. Sondae lees ons, soos gewoonlik, uit die Psalms. Ons sal ontdek hoe aktueel selfs die minder bekende Bybelboeke vir ons daaglikse lewe is.

Dié dagboek is geskik vir jou persoonlike stiltetyd, en om tydens huis­godsdiens te gebruik. Om daarmee te help gee ons elke dag ’n geselsvraag om die gesin te betrek. Dit sal julle help om die Skrifgedeelte elke dag op julleself toe te pas.

Mag hierdie jaar vir jou ’n besondere tyd van geestelike groei wees, sodat jy die Here sal leer ken soos Hy werklik is.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх