Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 8

Оглавление

Vrydag 2 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 3:1-17

Met Jesus aan tafel

As iemand ’n maaltydoffer wil bring … (3:1).

GESELSVRAAG:

Hoe kan ons die Here by ons maaltye vereer?

“Hoekom moet ons hande vashou wanneer ons aan tafel bid?” vra ’n besoeker se seuntjie. “Dit is sodat die kinders nie begin eet voordat ons klaar gebid het nie,” verduidelik een van die ander. Dit is baie goed om ’n gewoonte daarvan te maak om eers die seën te vra. Dit is opmerklik hoe min mense nog hierdie gebruik in restaurante vreesloos en openlik handhaaf.

Afgesien van die brandoffers wat heeltemal verbrand is, was daar ook die maaltydoffers. ’n Gedeelte daarvan is verbrand, ’n gedeelte is aan die Leviete gegee om van te lewe, en die grootste gedeelte is deur die gesin self geëet. Jy het jou hand op die offerdier se kop gesit en daardeur gesimboliseer dat jy jou saam met die dier aan die Here wy. Ons bid dus dat ons die energie wat ons deur die maaltyd kry, ook sal gebruik tot eer van die Here. Elke maaltyd is dus deel van ons toewyding en diens aan die Here. Ons dien die Here elke dag, nie net Sondae nie.

Ons almal is heeltyds in die Here se diens. Ons kan gerus saam dink hoe ons selfs ons maaltye deel van ons getuienis kan maak. Watter plek het die Here in ons alledaagse doen en late? Hoe kan ons maaltye ook vir ander mense tot seën wees? In die ou dae het sommige gelowiges telkens ’n ekstra plek gedek, ingeval iemand wat in nood is onverwags sou opdaag.

GEBED: Dankie vir elke dag se kos, Hemelvader.

Lees vanaand in Levitikus 4:1-12 hoe selfs onopsetlike sondes versoening nodig het. Wie het vir jou versoening bewerk?

Uit die Beek 2015

Подняться наверх