Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 19

Оглавление

Dinsdag 13 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 10:8-20

God soek toegewyde diens

Jy en jou seuns mag geen wyn of bier drink wanneer julle moet gaan diens doen … nie, want dan sal julle sterwe (10:9).

GESELSVRAAG:

Wat is die gevaar van alkoholiese drank?

“Net soos Moses swaar gepraat en vir Aäron nodig gehad het wanneer hy ’n boodskap moes oordra, so is wyn my Aäron om my die nodige vrymoedigheid te gee wanneer ek in die gemeente praat of bid,” verduidelik een van die gemeentesusters. Dit het gemaak dat sy dinge gedoen en gesê het wat eerder kon gebly het. Dit het meer skade as goed gedoen. Maar sy kon dit nie self insien nie, omdat alkohol ’n mens se brein verlam.

Vandag wonder ons waarom die Here juis hierdie enigste keer dat Hy direk met Aäron gepraat het, gekies het om oor alkoholiese drank te praat. En dit terwyl Aäron diep bedroef was oor sy seuns wat sopas wreed dood­gebrand het. Het dronkenskap dalk iets met hul roekelose en oneerbiedige optrede te doen gehad? Die Here verbied nie alkoholiese drank nie, want nie almal was nasireërs nie. Maar Hy verbied dit wanneer iemand diens doen in die gemeente (vgl Eseg 44:21; 1 Tim 3:3; 1 Pet 4:7).

Ons lees in Jesaja dat die priesters van sy tyd dronk was toe hulle moes leiding gee (vgl Jes 28:7). Dit het die Naam van die Here groot skade aangedoen. God haat dit. Dalk moet ons twee maal dink voordat ons alkoholiese drank aan iemand aanbied. Die gevolge kan dalk verskriklik wees.

GEBED: Here, hou my nugter in u diens.

Lees vanaand in Levitikus 11:1-19 watter diere, visse en voëls vir die Jode as kos moes dien.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх