Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 16

Оглавление

Saterdag 10 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 8:25-36

Vrede met God

Die dinge wat vandag gedoen is op bevel van die Here, was bedoel om julle sonde te versoen (8:34).

GESELSVRAAG:

Hoe probeer mense voorberei vir die ewigheid?

“As jy vandag sou doodgaan, dink jy dat jy hemel toe sal gaan?” was deel van ’n opname wat jongmense in die strate van New York gedoen het. Feitlik almal het gereken dat hulle hemel toe sou gaan. “Hoekom sê jy so?” is hulle gevra. “Ek is darem nie so sleg soos party ander mense nie,” was die mees algemene antwoord. Ek wonder wat sou die antwoorde wees as ons dieselfde vrae môre in ons gemeentes sou vra. Dit lyk vir my die meeste mense glo nou nog dat ons ons plek in die hemel kan en moet verdien. En dit is die grootste verskil tussen die goeie nuus van Jesus en al die ander godsdienste. Ons hoef dit nie te verdien nie. Christus het dit reeds vir ons verdien. Ons moet maar net glo.

Al die seremonies wat Aäron en sy seuns moes deurgaan, was eintlik maar net om ons behoefte aan reiniging te onderstreep. Almal is sondaars. Niemand is goed genoeg nie. Daarom moes Jesus kom om die pad na redding vir ons oop te maak. Hy het ons sonde versoen, wat ons nie self kon doen nie, en die diereoffers ook nie (vgl Heb 10:4, 9-23).

Ons sal vandag dalk ook geleentheid kry om te gesels oor versoening. Jesus het gekom om dit moontlik te maak: versoening tussen mense en versoening met God (vgl 2 Kor 5:19-20).

GEBED: Dankie dat U ons met God versoen, Here Jesus.

Lees vanaand in Levitikus 9:1-14 hoe Aäron begin het om sy amp te vervul. Wat doen jy vir die Here?

Uit die Beek 2015

Подняться наверх