Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 12

Оглавление

Dinsdag 6 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 6:1-13

Elke môre nuut

Die vuur moet aanhou brand op die altaar; dit mag nie doodgaan nie (6:13).

GESELSVRAAG:

Wat alles moet ons elke dag doen?

“Ek onthou hoe my pa lank voor dagbreek elke oggend opgestaan, die kole in die ou houtstoof gaan aanblaas en nuwe hout opgepak het om die koffie­water mee te kook, en die as uitgedra het. Dan het hy daar langs die stoof gesit tot dit tyd word om die werksmense te gaan wakker maak,” het ’n ou oom my eenkeer vertel. As ’n mens nie vuurhoutjies het nie, is dit ’n kuns om die vuur dag en nag aan die brand te hou.

Van vers 9 af kry ons die opdragte aan die priesters en die Leviete. Net soos die lamp moes die offervuur dag en nag aan die gang gehou word, want God het dit self aangesteek (vgl Lev 9:24). Dit het inderdaad bly brand tot die volk na Babilon weggevoer is (vgl Jes 31:9). Dit moes die simbool bly van God se teenwoordigheid te midde van die volk. Dit was ook die simbool van hoe die priesters as tussengangers tussen die mense en God gedurig aan diens was. Elke oggend moes die as weggeneem en op die regte manier buite die kamp gegooi word (vgl Lev 6:11). Die nuwe brandhout en offers moes dan vir die nuwe dag gepak word.

Ons diens aan die Here is ook nie net vir Sondag bedoel nie. Elke dag moet ons ons voor die Here reinig en voorbidding doen. Moenie dat jou gebedstyd in die slag bly nie. Jesus bid vir jou.

GEBED: Dankie dat U vandag ook vir my voorbidding doen.

Lees vanaand in Levitikus 6:14-23 hoe die graanoffer aan die Here bedoel was om vir die priesters te sorg. Hoe sorg ons vir ons leraar?

Uit die Beek 2015

Подняться наверх