Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 22

Оглавление

Vrydag 16 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 13:9-23

Basiese gesondheidsorg

Die priester kan hom dan rein verklaar (13:23).

GESELSVRAAG:

Wanneer moet ons beslis dokter toe gaan?

“Wat kan ’n mens doen as jy siek word op ’n plek waar daar geen dokter is nie?” is die vraag waarmee baie sendelinge in primitiewe gemeenskappe worstel. Daar is selfs boeke en internetwebwerwe beskikbaar om sulke mense te help. In die ou dae was daar net boererate om op terug te val, en daar is selfs versamelings van sulke boererate waaraan baie mense destyds geglo het.

Die Israeliete was op trek deur die woestyn, met geen dokters in hul ge­ledere nie. Die priesters moes maar die rol van dokter ook speel. Hulle het wel besef dat sommige siektes aansteeklik is – vandaar die lang lys mediese voorskrifte wat aan die priesters gegee is. Diegene met aansteeklike siektes moes kontak met die gesondes vermy. Dit lyk asof hulle velsiektes uit Egipte saamgebring het.

Vandag is ons geneig om hierdie hoofstukke oor te slaan, want kundige dokters is naby. Miskien hardloop ons dokter toe nog voordat ons gebid het. Ons kan egter weet dat ons gesondheid ook vir die Here belangrik is. Jesus en sy dissipels het baie mense genees (vgl Hand 5:15-16; 8:7). Dit was deel van Jesus se bediening (vgl Hand 10:38). Die Afrika-Onafhanklike Kerke lê steeds baie klem op genesing, en die hele gemeente bid en dans tydens die erediens om die sieke. Moet ons dalk iets by hulle leer?

GEBED: Here Jesus, U is die groot geneesheer. Genees ons ook.

Lees vanaand in Levitikus 13:24-28 hoe brandwonde destyds behandel is. Wat sou ons vandag in sulke gevalle doen?

Uit die Beek 2015

Подняться наверх