Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 41

Оглавление

Dinsdag 3 Februarie 2105 • Lees eers Levitikus 22:17-33

Wie is jou God?

Ek het julle uit Egipte gebring sodat Ek julle God kan wees. Ek is die Here (22:33).

GESELSVRAAG:

Wat maak ons God anders as ander gode?

“Wat op aarde maak ek hier?” het op die hempies gestaan wat ons gemeente laat druk het vir sy eerste 40-dae-studie. Dalk is dit ’n vraag wat ook al by jou opgekom het. Waarvoor het God my gemaak? Waarvoor het Hy my gered? Is dit bloot toevallig dat ek vandag in Suid-Afrika woon? Het Hy dalk ’n plan met my?

Ná die lang lys offers wat ons laat verstaan dat net die beste vir die Here goed genoeg is, sluit die hoofstuk af met die eintlike doel waarom God met Israel begin werk het. Hy het hulle uitgekies om hul God (nie hul bediende nie) te wees. Hy is nie daar om ons bevele uit te voer nie. Ons is daar om Syne uit te voer. “Ek, die Here, heilig julle” (v 32). Dit beteken dat Hy ons opsy sit om Syne te wees. Ons moet aan Hom toegewy lewe. Dit is waarom Hy uit genade met ons besig is.

Die offers moes sonder enige gebrek wees. Maar dit was bloot ’n vooraf­skaduwing van wat Christus sou kom doen. Toe Annas verklaar dat dit beter sou wees dat een man vir die hele volk sterf, het hy nie besef dat dit presies was wat God beplan het nie (vgl Joh 11:50). En toe Pilatus verklaar: “Ek vind geen skuld in hierdie man nie” (Luk 23:4) het hy daarmee aangedui dat dié offer sonder enige gebrek was, geskik om as offer te dien.

GEBED: Here, U is my God. Ek is gereed om U alleen te dien.

Lees vanaand in Levitikus 23:1-14 hoe ons die rusdag as ’n fees vir die Here moet vier. Watter ander feeste word hier genoem?

Uit die Beek 2015

Подняться наверх