Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 26

Оглавление

Dinsdag 20 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 14:10-20

Dankie, Here!

Die priester wat die reiniging doen, moet dan die persoon wat gereinig word, saam met sy offergawes bring … in die teenwoordigheid van die Here (14:11).

GESELSVRAAG:

Hoe sê ons vir die Here dankie vir sy seën?

“Ondank is die wêreld se loon,” herinner die spreekwoord ons. As jy iemand help met die verwagting om ten minste ’n woord van dank te ontvang, word jy dikwels teleurgestel. Daarom moet ons liewer mense help omdat Jesus dit van ons verwag en nie om die eer van mense daardeur te verwerf nie.

In vandag se gedeelte leer ons hoe iemand wat van sy velsiekte genees is, weer vir die Here kan dankie sê. Hy moes na die tabernakel toe gaan om die Here te dank, en sekere dankoffers saamneem wat hy met die priester moes deel. Dit was ’n hele plegtigheid, sodat die volk daarna geweet het dat hierdie mens nie meer onrein is nie, en dat hulle vryelik met die persoon kon omgaan sonder die gevaar om aan te steek.

Ons almal het so baie dinge om vir die Here voor dankie te sê. Ons hoef nie te wag tot ons wonderbaarlik van ’n siekte genees is nie. Ons kan dankie sê vir ons gesondheid, ons werk, ons gesin, ons huis, dat ons kan sien en hoor, en duisende ander dinge. Maar ons wil dit nie net sê nie. Ons wil dit ook wys deur die dankoffers wat ons aan die Here gee. Hoe dankbaar is jy as jy kyk hoeveel van jou inkomste jy in die Here se werk belê?

GEBED: Dankie vir al u seëninge, Hemelvader.

Lees vanaand in Levitikus 14:21-32 hoe ’n arm persoon ook vir die Here kan dankie sê vir sy genesing.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх