Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 32

Оглавление

Maandag 26 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 17:1-9

Bly getrou!

Die Israeliete mag nooit weer diere slag vir die veldgode en só aan die Here ontrou wees nie (17:7).

GESELSVRAAG:

Waarop vertrou mense, afgesien van die Here?

“Jy sien mos dis nie ’n witmenssiekte hierdie nie. Die dokter se medisyne het niks gehelp nie. Hierdie siekte kom van die voorvadergeeste. Jy moet hulle tevrede stel deur vir hulle offers te bring,” het ’n welmenende lidmaat aan evangelis Jafta verduidelik toe sy dogtertjie baie siek geword het. In die Xhosakultuur is dit niks vreemds dat Christene ook aan die voorvadergeeste offers bring nie. Dit gebeur selfs in sommige kerke.

Die Israeliete het in Egipte met baie godsdienste te doen gekry. Sommige het toe ook vir die plaaslike gode begin offer. Die teks praat van “veldgode”. In die oorspronklike taal is dit iets soos “bok-demone”, soos sommige vertalings dit weergee. Die volk word dus verbied om sommer op enige plek te offer. Alle offers mag net aan die Here wees. Hulle mag nie op iets anders vertrou nie (vgl v 7).

Vandag soek baie mense hulp by “Die sterre voorspel” of by bossiedokters. Toordokters het selfs spreekkamers in Kerkstraat in Pretoria. Ander maak staat op die geluksgodin wanneer hulle dobbel. Bygeloof maak dat sommige mens ’n knippie sout oor die skouer gooi of dat hulle nie onderdeur ’n leer wil loop nie. Gelukbringers om die nek of aan die arm moet ons veilig hou as ons reis. Dit is niks anders as afgodsdiens nie.

GEBED: Dankie dat U sterker is as enige afgode, Hemelvader.

Lees vanaand in Levitikus 17:10-16 oor die rol van bloed in die versoening van sondes, en waarom die volk dit nie mag eet nie.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх