Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 36

Оглавление

Vrydag 30 Januarie 2105 • Lees eers Levitikus 20:10-21

Doodsake

Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ’n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood (20:13).

GESELSVRAAG:

Hoekom is die heiligheid van die huwelik kosbaar?

“Sjoe, Moses (en die Here) sou darem sterk teenstand kry as hulle dit vandag sou waag om so ’n sterk standpunt hieroor in te neem,” het jy seker gedink toe jy vandag se Skriflesing gelees het. Dit is beslis nie polities korrek nie. Jy kan voor die hof gedaag en van misdade aangekla word. Ons praat nie oor hierdie dinge nie, behalwe in fluisterstemme agter ons hand. Vandag se mense weet mos altyd beter as die Here.

In vandag se gedeelte word helder en duidelik oor seksuele sondes gepraat. Hoewel hierdie soort lewenswyse vandag in die media as dood­normaal geteken word, is dit hier duidelik dat God dit nie wil hê nie. God wil die huwelik heilig as ’n veilige plek waar kinders tot sy eer gevorm word. Ontrou in die huwelik lei tot gebroke huwelike. En die kinders ly daaronder. So baie van ons wens dat ons daardie onbesonne daad kon uitvee.

God maak hiervoor ook voorsiening sedert Jesus gekom het. “Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of … egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen … sal deel kry aan die koninkryk van God nie” (1 Kor 6:9-10). Sommige Korintiërs het dit self gedoen, maar is deur Christus en die Heilige Gees daarvan bevry en vrygespreek (vgl 1 Kor 6:11). God se liefde is oneindig.

GEBED: Here, help my in liefde uitreik na elkeen in gevaar.

Lees vanaand in Levitikus 20:22-27 die verdere samevatting van die nuwe lewenstyl van mense in die beloofde land.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх