Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 40

Оглавление

Maandag 2 Februarie 2105 • Lees eers Levitikus 22:1-9

Lewe versigtig

Die priesters moet my bevel gehoorsaam en nie sondig nie (22:9).

GESELSVRAAG:

Wat verwag ons meer van ’n dominee as van lidmate?

“’n Trein loop nie verder as die lokomotief wat hom trek nie.” Baie mense verwag van hul leraar dat hy of sy heiliger as die res van die gemeente moet wees. Dít lei daartoe dat sommige kerkleiers – of hul kinders – daarteen in opstand kom en met opset anders optree as wat van hulle verwag word. Geen mens hou daarvan dat iets aan jou opgedring word nie. (Die mens bly maar ’n opstandige wese.)

Vandag se Skrifgedeelte herinner ons daaraan dat dit nie gaan oor wat mense van jou verwag nie, maar oor wat God van jou verwag. Die wette wat ons vandag saam gelees het, geld nie meer sedert Jesus die finale hoëpriester geword het nie. Tog leer dit ons dat God verwag dat kerkleiers die regte voorbeeld moet stel. Mense moet weet dat ons aan God gewy is. Dit maak dat ons anders optree. Ons besef dat die gesegde “Elke mens moet sy sondetjie hê” nie waar is nie. God verwag meer van sy kinders. Elke sondetjie het die bloed van Christus gekos om te versoen. Sonde is dus nie iets om mee te speel nie.

Min dinge gee aan ongelowiges soveel plesier as om te lees of te hoor van kerkleiers wat in sonde geval het. Sulke stories verkoop die Sondagkoerante. Maar vir Christus en elke ware kind van God bring dit hartseer. God se eer is op die spel. Kom ons soek om God vandag te gehoorsaam.

GEBED: Here, help my vandag so lewe dat U daardeur vereer word.

Lees vanaand in Levitikus 22:10-16 wie toegelaat is om van die gewyde gawes te eet. Sê dit vir jou iets oor die nagmaal?

Uit die Beek 2015

Подняться наверх