Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 39

Оглавление

Sondag 1 Februarie 2105 • Lees eers Psalm 27:1-6

Waar voel jy tuis?

Net een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek najaag: dat ek my hele lewe lank in sy huis mag woon om sy goedheid te belewe en daaroor na te dink in sy tempel (27:4).

GESELSVRAAG:

Wens jy die eredienste kon langer duur? Verduidelik.

“Ons is na die Pinkstersaamtrek van ’n aantal Afrika-Onafhanklike Kerke (AOK) genooi. Dit sou tienuur begin, maar eintlik het ons eers elfuur begin. Teen vieruur die middag moes ons verskoning maak – die gemeente het toe nog nie geëet nie, maar daar was nog etlike kore en predikers wat vir hul beurt gewag het. Toe ons vra hoekom die dienste so lank duur, was die antwoord: ‘Maar dis mos lekker hier. Hoekom moet ons haastig wees?’” Vir die meeste van ons is so ’n lang diens ’n marteling. Hoekom? Waar lê die fout? ’n Leier uit Afrika het verduidelik: “Julle het die horlosies. Ons het die tyd.”

Dit is duidelik dat Dawid se kultuur baie nader aan dié van Afrika was as aan dié van die Weste. Dit was vir hom lekker om die Here te aanbid. Hy kon ure in die tempel deurbring saam met die Here, al was hy die koning van Israel.

“Die ouderling het vir my gesê ek kan oor enigiets preek – net nie oor ’n uur nie,” vertel ’n predikant met ’n vonkel in die oog. Paulus sou nie in daardie gemeente welkom wees nie, want hy het by geleentheid deur die nag gepreek (vgl Hand 20:7-11). Hoekom maak ons tyd vir alles behalwe die Here?

GEBED: Here, dit is vandag vir my lekker om tyd saam met U deur te bring. Ontmoet my en seën my, sodat ek ander kan seën.

Lees vanaand Psalm 27:7-14 en onderstreep elke vers wat op jou van toepassing is.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх