Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 33

Оглавление

Dinsdag 27 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 18:1-15

Bloedskande

Niemand van julle mag met ’n naby bloedverwant geslagsgemeenskap hê nie. Ek is die Here (18:6).

GESELSVRAAG:

Hoekom is verkragting so algemeen in ons land?

“Suid-Afrika is die verkragtingsmekka van die wêreld,” skryf iemand onlangs in die koerant. Luidens ’n berig op die internet word 82 000 vroue en kinders elke maand in ons land verkrag. En meestal deur iemand wat hulle goed ken: ’n pa, ’n oupa, ’n oom, ’n broer. Daar is iets radikaal verkeerd in ons land. Die letsels wat daardie kinders, vroue en selfs mans vir die res van hul lewe dra, getuig hoe duisende lewens verwoes word.

Die Here wil ons teen sulke gesinsgeweld beskerm. Vandaar die ernstige voorskrifte wat ons vandag gelees het. As ’n mens die Bybel verwerp, verloor jy daarmee ook die duidelike morele voorskrifte daarin. Later begin elkeen doen wat in hul eie oë goed is, en die uiteinde is verwoeste lewens.

’n Pa het in die hof getuig dat hy graag wou hê dat sy dogtertjie se eerste ervaring van seks in ’n liefdevolle omgewing moes wees. Dit is waarom hy haar verkrag het – uit liefde. Verskriklik. Dit lyk asof wellus in ons land oorgeneem het. “My boetie het gesê hy sal my van seks leer,” skryf ’n meisie aan wyle dr Murray Janson. “So nou oefen ons so drie maal per week. Is dit verkeerd?” Dit lyk asof die boek Levitikus nooit in hul huis gelees is nie. En in julle s’n?

GEBED: Here, bewaar ons en ons kinders van onsedelike dade.

Lees vanaand in Levitikus 18:16-30 van nog meer afstootlike gebruike van die heidene wat totaal verbode is.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх