Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 28

Оглавление

Donderdag 22 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 15:1-18

Veilige seks

Wanneer ’n man en ’n vrou geslagtelike omgang gehad het, moet altwee bad. Hulle is die res van die dag onrein (15:18).

GESELSVRAAG:

Wat is die geheim van veilige seks?

“Is dit regtig nodig om oor sulke dinge in die Bybel te skryf?” wonder jy dalk. Ons wil nie graag sulke gedeeltes saam met ons kinders lees nie – dit gee aanleiding tot te veel vrae wat ons moeilik vind om te beantwoord. In ’n opname is bevind dat die meeste kinders geen geslagsvoorligting van hul ouers gekry het nie – alles wat hulle weet, het hulle by hul maats gehoor.

Die heidense volke deur wie die Israeliete getrek het, het onsedelik gelewe. Prostitusie en egbreuk was deel van hul godsdiens om só vrugbare oeste te probeer verseker. Indien die Israeliete hul voorbeeld sou volg, sou seksueeloordraagbare siektes die volk vernietig. God wil sy mense veilig hou. Seks is ’n gawe van God – dit is voor die sondeval gegee – maar dit is net veilig binne ’n huwelik waar albei aan mekaar getrou bly.

In ons tyd is daar te veel mense wat hulle nie aan God se gebooie steur nie. Ontrou in die huwelik veroorsaak dat hulle dodelike siektes soos vigs opdoen en in die huwelik indra. Die miljoene weeskinders in ons land en duisende huisgesinne met kinders as hoof is getuie hiervan. Hul ouers is deur ontrou vernietig. Wat is die toekoms van sulke kinders? Die ouer kinders verkoop hul liggame om vir die ander te sorg. En sterf self.

GEBED: Here, bewaar ons gesin van al hierdie gevare.

Lees vanaand in Levitikus 15:19-33 watter reëls vir vroue gegeld het om die Israeliete gesond te hou.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх