Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 37

Оглавление

Saterdag 31 Januarie 2105 • Lees eers Levitikus 21:1-8

Stel die voorbeeld

Hulle moet aan hulle God alleen gewy wees en mag nie sy Naam ontheilig nie (21:6).

GESELSVRAAG:

Moet ’n predikant anders as die lidmate lewe?

“Vandag lyk jy na ’n regte predikant, Dominee,” was ’n suster se kommentaar toe die dominee sy toga aantrek voordat hy die sakramente bedien. Waar kom dit vandaan dat predikante swart pakke en wit dasse moet dra? Of in die ou dae manelpakke en beffies? En waar kom die swart togas vandaan? Beslis nie uit die Bybel nie. Dit was ’n teken van geleerdheid in die Middeleeue wat ons geërf het. Dit was ’n statussimbool.

Die Here wou Moses leer hoe om die heiligheid van die amp te bevestig. Nie soseer deur snaakse klere te dra nie, maar deur ’n heilige lewenswandel. Die priester moes die voorbeeld stel vir die gemeente. Mense moes sommer sien dat hierdie mens ten volle aan die Here gewy is.

Vandag vind ons dit vreemd. Sedert Christus se koms is elke gelowige ’n priester. Ons kan nou self met God kommunikeer. Elke vader is die priester van sy huisgesin. In die Midde-Ooste deel elke gesin se pa die nagmaal aan die gesinslede uit en stel die nagmaal vir hulle in. Maar omdat ons nou ’n volk van priesters is (vgl 1 Pet 2:9), moet ons lewe soos mense wat ten volle aan God gewy is. Ons kinders leer deur ons voorbeeld, nie deur ons woorde nie.

GEBED: Here, help ons om heilig te lewe, tot u eer.

Lees vanaand in Levitikus 21:9-24 hoe mense gekeur is om in die tabernakel te dien.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх