Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 42

Оглавление

Woensdag 4 Februarie 2105 • Lees eers Levitikus 23:15-25

Die oesfees

Op hierdie dag moet julle ’n gewyde byeenkoms hou (23:21).

GESELSVRAAG:

Wanneer is dit ’n goeie tyd vir ons om ’n oesfees te hou?

“Die woord Pinkster kom van ’n Griekse woord wat ‘vyftig’ beteken. Dit verwys na die dankfees vir die oes wat die Jode elke jaar gehou het. Op dieselfde dag is die Heilige Gees op die gemeente in Jerusalem uitgestort en die eerste oes van 3 000 nuwe bekeerlinge is op daardie dag ingesamel.” So ontdek ons die verband tussen die Joodse feeste en die Christelike kerk. Die eerste Pinksterfees was presies 50 dae nadat Christus aan die kruis gesterf het.

Baie gemeentes, veral op die platteland, hou ’n jaarlikse fees aan die einde van die oestyd. Dit verskil volgens die aard van die boerdery in die omgewing. Tydens dié fees word die Here geloof en gedank vir sy genade, dat Hy reën op sy tyd gestuur het en dat die oes veilig ingesamel kon word. Dit is ’n tyd van groot blydskap. Dit val ook dikwels saam met ’n spesiale insameling vir die werk van die Here.

Ek hoop julle sien so uit na die Pinksterbyeenkomste in jul gemeente. Dit is tradisioneel ’n tyd van nuwe oorgawe, en baie mense kan hul dag van bekering aan ’n Pinksterdiens koppel. Dit is ’n ander soort oesfees. Die gewone oeste gaan verby, maar die geestelike oes bly tot in ewigheid. Ouers se gebed moet wees dat hul kinders en kleinkinders betyds deel van die Here se oes sal wees.

GEBED: Dankie vir al u tydelike en ewige seëninge, Here.

Lees vanaand in Levitikus 23:26-44 van die drie feeste wat in September en Oktober gehou is. Wanneer vier julle fees?

Uit die Beek 2015

Подняться наверх